In haar begrotingsrede het die minister van onderwys aangekondig dat die department ’n veldtog gaan loods om leerlinge bewus te maak van ’n Handves van Verantwoordelikhede (A Bill of Responsibilities for the Youth of South Africa). Hierdie handves is opgestel deur die Intergeloof Raad en kom neer op ’n indoktrinasie van die jeug van Suid-Afrika met die waardes van die Intergeloof beweging.

Hierdie aankondiging bevestig weereens die band tussen die Departement van Onderwys en die Intergeloof beweging, soos dit uitgewys is tydens die veldtog teen die invoering van die Nasionale Kurrikulum in 2001.

In 2001 is die Hersiene Nasionale Kurrikulum vrygestel vir publieke kommentaar. As dit nie was vir die Pestalozzi Trust nie, sou hierdie kurrikulum stilweg aanvaar word sonder veel publieke kommentaar. Die Pestalozzi Trust het egter ‘n veldtog van stapel gestuur om die publiek bewus te maak van hierdie kurrikulum en hulle opgeroep om kommentaar te lewer.

Een van die grootste verskille tussen hierdie kurrikulum en vorige kurrikulums, is dat dit ’n groter klem plaas op die oordrag van waardes. Die kurrikulum gee voor dat dit die waardes van die grondwet oordra. Uit nadere bestudering van die kurrikulum blyk dit egter dat dit slegs ’n seleksie van waardes van die grondwet is, soos eensydig uitgekies en geïnterpreteer deur die minister en sy anonieme raadgewers.

Een van die grootste besware was dat die kurrikulum, veral in die leerarea van “Lewensorientering”, die Intergeloof godsdiens bevorder. Volgens hierdie godsdiens is alle godsdienste in die wêreld menslike versinsels en is daar nie ’n ding soos ’n ware godsdiens en ’n valse godsdiens nie. Alle godsdienste is gelyk. Hierdie godsdiens is onaanvaarbaar vir die meerderheid van Christene in die land.

Sarel van der Merwe het 'n video gemaak oor hierdie strategie van die destydse minister van onderwys, prof. Kader Asmal, en sy anonieme raadgewers, om die Intergeloof godsdiens te bevorder deur middel van ’n nasionale kurrikulum. Die titel van die video is : "Intergeloof in die Onderwys". In hierdie video word die bande tussen die minister van onderwys, sy raadgewers en die Intergeloof beweging aangetoon.

Toe die veldtog van die Pestalozzi Trust daartoe gelei het dat die strategie van die minister duidelik geraak het vir die publiek, het die minister heftig gereageer.

Die duisende besware van ouers het egter nie die minister gekeer om voort te gaan om die kurrikulum op ’n onderduimse en ondeursigtige wyse aanvaar te kry deur die parlement nie.

In die begrotingsrede van 2011 het die huidige minister weereens die band bevestig tussen die Departement van Basiese Onderwys en die Intergeloof beweging toe sy gesê het : “It is behind this background that we launched the Bill of Responsibilities in partnership with Lead South Africa and the South African Inter-Faith Council. This will help in raising awareness around the Bill of Responsibilities so as to promote the Bill of Rights, constitutional values and civic responsibilities.

Hierdie Handves van Verantwoordelikhede gee voor dat dit die verantwoordelikhede beskryf wat voortvloei uit die regte wat in die grondwet gegee word. Dis eng om voor te gee dat die verantwoordelikheid om ander mense vriendelik te groet voortvloei uit die reg op menslike waardigheid. Daar is geen gronde om voor te gee dat die verantwoordelikheid om nie wapens te dra nie voortvloei uit die reg van lewe. Daar kan nie voorgegee word dat onderskrywing van die ideologie van klimaatsverandering uitvloei uit die reg op ’n veilige omgewing nie. Dit is irrasioneel om te beweer die plig om respek te hê vir die standpunt van ander (hoe onsinnig en absurd ook) voortvloei uit die reg op vryheid van godsdiens en opinie.

As daar van leerlinge op skool verwag gaan word om hierdie manifes te onderteken, dan word hierdie leerlinge verplig om hulle te onderwerp aan ’n onsinnige interpretasie van die grondwet en daardeur hulle grondwetlike regte op te gee. Die invoer van hierdie handves kom neer op indoktrinasie deur die Intergeloof beweging in die naam van die grondwet, met die hulp van die Departement van Onderwys.

Terwyl min. Asmal huiwerig was om bekend te maak wie sy raadgewers was, is die huidige minister van onderwys nie bang om in ’n publieke toespraak te sê dat sy saamwerk met die Intergeloof beweging nie. Die embleem van die intergeloof beweging kom voor op die dokument van die departement. Dit beteken dat die destydse besware teen die kurrikulum nou nog net so relevant is as tien jaar gelede en dit is nou sigbaar vir almal.

Dit is om die redes dat die hofsaak oor die vraag of die nasionale kurrikulum bindend is van kardinale belang is vir ouers wat hulle eie waardes wil oordra aan hulle kinders.