Leendert was 'n vryheidsvegter in die ware sin van die woord. Baie wat hulleself beskou as vryheidsvegters gebruik geweld om die vryheid vir hulself te verwerf om ander te onderdruk. 'n Ware vryheidsvegter offer homself egter op om vir ander vryheid te verwerf.

Leendert het sy lewe toegewy aan die vryheid van ouers om tuisonderwys te kan gee. Sy nalatenskap is dat daar 'n veilige ruimte is waarbinne tienduisende gesinne met gemoedsrus tuisonderwys kan gee. Dis my skatting dat hierdie veilige ruimte 'n verskil in meer as 'n 100 000 kinders se lewens gemaak het.

Hy het nie net vryheid verwerf nie, maar ook organisasies gestig wat kan voortgaan om hierdie vryheid verder uit te bou. Die Vereniging vir Tuisonderwys, die Pestalozzi Trust en die Gauteng Vereniging vir Tuisonderwys.

Die wapen wat Leendert in sy stryd gebruik het was die woord. Hy het sy insigte versprei deur te praat, te skryf en te adviseer. Hy was 'n mentor, aktivis, regskundige en skakelpersoon.

Mentor

Deur middel van die tuisonderwys poslys, wat in 2000 geskep is, het hy jaar in jaar uit ouers onderrig, ondersteun en bemoedig. By die kantoor het die telefoon nooit ophou lui nie, en moes navrae beantwoord word en paniekerige ouers hanteer word. In werkswinkels is intens met ouers gewerk en is daar groot kopskuiwe gemaak.

Politieke aktivis

Om 'n politieke veldtog te loods verg enorme hoeveelhede energie, aangesien baie mense gemotiveer moet word om briewe te skryf, oproepe te maak of 'n demonstrasie by te woon. Ongeag hoeveel energie jy insit, daar is nooit 'n waarborg dat daar 'n goeie reaksie gaan wees nie. Leendert het verskeie politieke veldtogte van stapel gestuur. Die veldtog teen die nasionale kurrikulum, die demonstrasie by die Duitse skool, die veldtog teen CAPS en veldtog teen die Weskaapse tuisonderwysbeleid. In die proses het hy verskeie kere aabiedings gedoen aan parlementere portfeulje komitees. Toe die Dept. van Basiese onderwys belanghebbers uitgenooi het vir vergaderings oor 'n nuwe beleid, het Leendert die alliansie vir tuisonderwys gestig wat daarvoor gesorg het dat tuisskolers uit een mond gepraat het tydens die vergaderings.

Regskundige

Alhoewel die strategie van die Trust is om hofsake te vermy, is dit onvermydelik dat daar by tye hofsake is. Die Trust was betrokke by 4 hofsake in Kaapstad, Pretoria, Botswana en Pietermaritsburg. Vir elke hofsaak moet bekwame regslui gevind word, die regslui moet voorgelig word oor die tersaaklik wetgewing en astronomiese rekeninge moet betaal word. Weens die getransformeerde aard van ons howe is die uitslag nie voorspelbaar nie. Wanneer dit egter nodig was om onreg te herstel deur die hof het Leendert egter nie gehuiwer nie.

Media persoonlikheid

Leendert het op 'n gereelde basis op TV verskyn, op radio gepraat en onderhoude gevoer met joernaliste. Wanneer 'n joernalis 'n onderhoud wil voer met 'n tuisskoolgesin het Leendert georganiseer dat 'n geskikte lid van die Pestalozzi Trust met die media praat.

Internasionale persoonlikheid

Leendert was nie slegs gewaardeerd in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wereld. Sy artikels is gepubliseer in internasionale akademiese tydskrifte. Hy was lid van die organseringkomitee van die Global Home Education Conference wat suksesvolle konferensies in 2012 in Berlyn en 2016 in Rio de Janeiro aangebied het. By die konferensie was hy een van die hoofsprekers en sy insigte is deur almal hoog aangeslaan.

Slot

Leendert was 'n unieke persoon met 'n diepgaande kennis van onderwys, die reg, politiek en kommunikasie, alles in een persoon. Wie van ons sien kans om so baie energie in te sit om 'n politieke veldtog van stapel te stuur as die resultate onvoorspelbaar en onmeetbaar is? Wie van ons sien kans vir die verantwoordelikheid vir 'n hofsaak as die resultaat nie gewaarborg is nie en honderde duisende rande in 'n oogwink opgebruik word? Wie van ons kan senior advokate voorlig oor die argumente wat in 'n saak gebruik moet word? Wie van ons sien kans om gereeld en onvoorsiens bevooroordeelde joernaliste en radio en TV aanbieders te hanteer?

Leendert kon hierdie gawes in die korporatiewe wereld aangewend het om baie meer geld te verdien. Hy het egter sy gawes aangewend om die vryheid vir tuisonderwys te verwesenlik. Hierdie vryheid het ouers bemagtig om hulle kinders te beskerm van fisiese, emosionele en geestelike bedreigings, en het daarom nie slegs waarde vir hierdie lewe nie, maar ook ewigheidswaarde.

Die Here het besluit om Leendert van ons weg te neem. Baie het van harte gehoop dat hy nog langer vir ons gespaar kon bly, maar die Here het anders besluit. Die van ons wat agterbly het die roeping om die nalatenskap te bewaar en verder uit te bou, en ek vertrou dat die Here op die regte tyd die regte persone sal gee om die groot leemte op te vul.