Suid-Afrika word algemeen beskou as ’n land met een van die mees geweldadige samelewings in die wereld. Time Magazine verwys na die Suid-Afrikaanse kultuur van geweld. Die regering en kerke probeer dinge doen om die probleem aan te spreek. Die regering loods bewusmakingsveldtogte in skole om leerders bewus te maak van geweld en hulle aan te moedig om dit aan te meld. Kerke moedig lidmate aan om te bid oor misdaad en ander probleme. Die vraag is egter of al hierdie aksies werklik die oorsake van die probleem aanspreek.

Toenemend word gerapporteer dat die verval van die tradisionele gesin die oorsaak is van die geweldskultuur. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede (SAIRA) berig : “Navorsing toon kinders wat sonder ouerleiding grootword – veral meisies sonder ’n pa – is meer geneig daartoe om riskante seksuele gedrag te openbaar, dwelms te gebruik en by misdaad betrokke te wees as kinders met twee ouers.” Hierdie navorsing speel ook ’n belangrike rol in die film “Courageous”.

Met die term “tradisionele gesin” word verwys na ’n gesin wat gebasseer is op ’n tradisionele huwelik. Eienskappe van die tradisionele huwelik is dat dit heteroseksueel, monogaam (een man en een vrou) en permanent (tot die dood hulle skei) is. Alternatiewe gesinne verwys na gesinne wat gebasseer is op alternatiewe huwelike, bv. twee mans en kinders (homoseksuele huwelik), een man en baie vroue en kinders (poligame huwelik), ’n enkelmoeder en ouma en kinders (tydelike of geen huwelik).

Die alternatiewe gesin het in Suid-Afrika die norm geword. SAIRA berig dat slegs ’n minderheid van 33% van Suid-Afrikaanse kinders nog opgroei in ’n tradisonele gesin met twee ouers. As die verval van die tradisionele gesin ’n oorsaak is van geweld, is dit dus nie verbasend dat Suid-Afrika ’n gewelddadige samelewing is nie.

As navorsing aantoon dat die verval van die tradisionele gesin ’n oorsaak is van die geweld in die Suid-Afrikaanse samelewing, sou mens verwag dat burgerlike instellings die herstel van die tradisionele gesin sou bevorder. Die regering het egter die definisie van 'n huwelik volgens die Huwelikswet (Wet No. 25 van 1961) deur die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 uitgebrei na burgerlike verbintenisse wat deur twee mense van dieselfde geslag aangegaan word. In die NG Kerk is daar toenemende gesprek om ruimte te skep vir saamwoon en homoseksuele huwelike. Dit lyk dus of die regering en die hoofstroomkerke nie besig is om die tradisionele gesin te bevorder nie, en daardeur ’n belangrike oorsaak van misdaad nie aan te spreek nie.

Geweld het alle samelewingsverbande binnegedring, insluitende skole. Volgens onlangse navorsing deur die Jeugeenheid van UNISA, is boelie ’n algemene verskynsel in skole, en is besig om toe te neem. Ongeveer drie uit elke tien leerders in skole is tans slagoffers van boelies. Die Suid-Afrikaanse kurrikulum (CAPS) moedig ook geweld aan deur die alternatiewe gesin te bevorder. In die vak Lewensoriëntering word tradisionele geslagsrolle beskryf as “stereotipes” en gekontrasteer met “moderne sienings”. Daar word van leerders verwag om verhoudings in die gesin te analiseer in terme van ’n magstryd tussen die geslagte. Die gesinne wat in handboeke en voorgeskrewe boeke uitgebeeld word is oorwegend alternatiewe gesinne. In sommige handboeke word kinders selfs direk aangemoedig om geweld te gebruik teenoor ander kinders indien hulle meen dat hulle verontreg is.

Pogings om geweld in skole te bekamp maak dikwels die probleem nog erger. Sommige skole in die VSA versoek die hulp van die polisie. Die polisie is egter geneig om kinders as potensiële misdadigers te sien. Wanneer hulle ontplooi word by skole gebruik hulle dikwels 'n "zero tolerance" benadering, en dan gebeur vreemde dinge. In die VSA is 'n 12-jarige meisie in hegtenis geneem omdat sy parfuum gebruik het. 'n 13-jarige seun is in hegtenis geneem omdat hy ‘n wind opgebreek het in die klas. Dit lyk of Suid-Afrikaanse politici hierdie voorbeeld volg. Die LUR's vir Onderwys in Kwazulu-Natal en Gauteng het reeds gedreig om die polisie te gebruik om dissipline uit te oefen teenoor leerlinge wat laat by die skool aankom.

Om hulle kinders te beskerm teen geweld in skole haal meer en meer ouers hulle kinders uit skole en kies vir tuisonderwys. Tuisonderwys is egter nie slegs ’n onderwysmodel wat kinders beskerm teen die geweld nie, dit is ook ’n onderwysmodel wat bydra tot die versterking van gesinsbande. Dit is dus ’n onderwysmodel wat bydra tot die herstel van die tradisionele gesin. Op hierdie wyse beskerm tuisonderwys nie slegs kinders teen geweld nie, maar maak kinders ook groot in ’n omgewing wat verhoed dat hulle later deel word van die geweldskultuur.

As daar dus iemand vereer moet word omdat hulle ’n tasbare bydrae lewer om oorsaak van die geweldskultuur in Suid-Afrika aan te spreek, dan is dit die duisende ouers wat elke dag besig is om hulle kinders binne gesinsverband op te voed. Ongelukkig is die aandag van die media oorwegend gerig op die regering en die hoofstroomkerke se inisiatiewe wat slegs die simptome aanspreek. Die Vereniging vir Tuisonderwys is egter dankbaar vir die duisende ouers wat buite die soeklig van die media in hulle huise besig is om elke dag ’n werklike verskil te maak aan die geweldskultuur.

b2ap3_thumbnail_geweldskultuur.jpg