Die Pestalozzi Trust het  2014 begin met ‘n publikasie getiteld : “Onweerswolke dreig vir tuisonderwys”. Hierdie artikel beskryf die ontwikkeling van toenemende samewerking tussen drie partye wat op die lange duur tuisonderwys drasties sal inperk. Die drie partye  is die staat, onderwysvakbonde en institusionele beleggers. Heelwat het hierdie jaar gebeur wat bevestig dat die bekommernisse van die Pestalozzi Trust geldig is, insluitende die beoogde drakoniese regulasies oor tuisonderwys van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) wat uitgelek het.

Staatskole is onder totale beheer van die staat en dit is in 2014 nog versterk deurdat ook die keuse van handboeke weggeneem is van skole. Die regulering van privaatskole is besig om eksponensieel toe te neem sodat hierdie onderwysvorm binnekort slegs toeganklik sal wees vir ryk mense. Slegs tuisonderwys bly oor as ‘n bekostigbare vorm van onderwys wat ouers kan kies om aan hulle kinders kwaliteit onderwys te gee, in lyn met hulle waardes en wat aangepas kan word volgens die behoeftes van elke individuele kind. As die DBO toegelaat gaan word om hulle beoogde regulasies in te stel sal hierdie vorm van onderwys ook getransformeer word in ’n duur, onbuigbare vorm van staatsonderwys tuis.

Gelukkig is die tuisonderwysverenigings in Suid-Afrika uitgenooi deur die DBO om deel te neem aan die hersiening en finalisering van die beoogde beleid en regulasies oor tuisonderwys. Hierdie vergaderings gaan plaasvind op 9 en 10 Oktober 2014 en 29 en 30 Januarie 2015 in Pretoria. Tuisonderwysverenigings vanoor die hele land beplan om verteenwoordigers na hierdie vergaderings te stuur en alles in hulle vermoë te doen om die vryheid van ouers om die soort onderwys vir hulle kinders te kies te behou. Die verenigings werk ook almal saam in die Suid-Afrikaanse Koalisie vir Tuisonderwys.