Volgens berigte in die pers het baie tuisleerders probleme ervaar met die NSS (Nasionale Senior Sertifikaat) of Graad 12 eksamen van 2012. “Van die leerlinge se ouers is baie bekommerd dat die gesloer ’n negatiewe uitwerking op hul kinders se studie- en werkmoontlikhede kan hê.”. Dit laat tuisskoolouers wonder of hulle eerder hulle kinders na ’n skool toe moet stuur vir Gr.10 – 12, of dat hulle dalk ’n alternatiewe matriek moet oorweeg.

Die www.tuisskolers.org webwerf probeer ouers op hoogte hou van alle moontlike maniere waarop tuisleerders ’n matriek of ekwivalent kan verwerf, en het die NSS eksamen van 2012 daarom met groot belangstelling gevolg.

'n Belangrike rede vir die probleme is die komplekse administrasie van die NSS. Eerstens moet leerders enorme hoeveelhede toetse en praktiese werk en portefeuljes en eksamens doen en tuisleerders moet dit teen voorgeskrewe datums by die kurrikulumverskaffers ingee . Tweedens word eksamens by verskillende plekke geskryf. Sommige eksamens is intern, sommiges by SAKAI sentrums en ander by staatskole. Derdens moet al die punte uiteindelik by een plek bymekaarkom waar ’n finale punt met komplekse formules bereken word. Die rolspelers betrokke by die komplekse proses is die kurrikulumverskaffers en SAKAI en Umalusi en die nasionale DvO (Departement van Onderwys) en die provinsiale DvO's. Sulke komplekse prosesse met so baie rolspelers is ondeursigtig vir ouers.

Om ’n NSS te verwerf is ook baie duur. In die verlede was die kostes verbonde aan die verwerwing van matriek deur ’n tuisleerder ongeveer R1000. Die kostes vir die vewerwing van die nuwe NSS is egter in die orde van R30 000 oor ’n periode van drie jaar. ’n Verhoging van byna 3000%.

Om die probleme beter te verstaan het die Vereniging vir Tuisonderwys 'n meningspeiling oor NSS 2012 opgestel, dit op sy webwerf geplaas en tuisskoolouers met matrikulante uitgenooi om deel te neem. Deelname was heeltemal vrywillig, en ervaring leer dat min mense deelneem aan sulke meningspeilings. Ouers is slegs deur middel van enkele publieke poslyste uitgenooi en daar is rede om te glo dat daar min ouers met matrikulante op hierdie poslyste is. Desnieteenstaande hiervan het 22 ouers die meningspeiling voltooi.

Die mees beduidende uitslae van die meningspeiling is soos volg:

VRAAG : “Toe u navraag gedoen het waarom die uitslae van die matriekeksamen nie beskikbaar was nie, is u van die een party na die ander party verwys sonder dat iemand verantwoordelikheid geneem het vir die probleem? (bv. kurrikulumverskaffer, SAKAI, Umalusi, Dept. van Onderwys, skool, ...)” - 56% het Ja geantwoord

VRAAG : “Indien u geweet dat die proses so kompleks is, sou u ingeskryf vir die NSS?” - 100% het geantwoord dat hulle ’n alternatiewe matriek soos Cambridge of GED sterk sou oorweeg het.

VRAAG : “Die komplekse proses rondom die administrasie van die NSS is ooreengekom tussen kurrikulumverskaffers, SAKAI, Umalusi en die onderwysdepartement. Dit is egter ouers en leerders wat die gevolge moet dra as die proses nie werk nie. Is u van mening dat ’n organisasie wat die belange van ouers en leerders verteenwoordig betrokke moet wees by die aangaan van ooreenkomste rondom die administrasie van die matriekeksamen?” -  90% het Ja geantwoord.

VRAAG : “Toe u ingeskryf het vir die NSS, moes u waarskynlik die volledige eksamenfooi vooruit betaal het. Meen u dat dit billik is?” - 81% het Nee geantwoord.

VRAAG : “Het u enige probleme ervaar met deurlopende assesering deur die kurrikulumverskaffer of leersentrum (portefeuljes, toetse en die Junie eksamen)?” - 75% het Ja geantwoord.

Die wyse waarop die administrasie van die NSS vir tuisleerders tans bedryf word is kompleks, ondeursigtig en duur. Hierdie optrede kom neer op diskriminasie teen leerders wat hulle fundamentele reg op tuisonderwys uitoefen. Miskien sal dit op ’n stadium aanleiding gee tot ’n hofsaak teen die rolspelers in die NSS, maar intussen begin ouers toenemend gebruik maak van alternatiewe vir die NSS.