Navorsing toon dat meeste tuisonderwys gedoen word in ’n tradisionele gesin. 97.9% van tuisleerders in die VSA kom uit ’n gesin van ’n getroude egpaar. In ’n vorige blog artikel is aangetoon dat tuisonderwys nie slegs ’n onderwysmodel is wat kinders beskerm teen die geweld in skole nie, maar kinders ook grootmaak in ’n omgewing wat verhoed dat hulle later deel word van die geweldskultuur, aangesien tuisonderwys ’n onderwysmodel is wat die tradisionele gesin versterk.

Gegee dat tuisskoolouers oorwegend baie waarde heg aan die tradisionele gesin, sou mens verwag dat die tuisonderwys-kurrikulumverskaffers hierby sou aansluit. Ongelukkig lyk dit of die teendeel eerder waar is. Leendert van Oostrum het, op versoek van ouers, ’n analise gedoen van enkele Afrikaanse voorgeskrewe boeke vir Gr. 10 en 12. Hy som die boek “Hanna Hoekom” soos volg op : “Hanna woon saam met haar ma, 'n skilder, haar stiefpa, 'n akteur, haar halfboetie van ongeveer 8 en twee stiefboeties, een wat ongeveer 'n jaar ouer is as sy en een van dieselfde ouderdom as haar halfboetie. Die stiefpa is nie die halfboetie se pa nie. Die halfboetie is gebore terwyl haar ma tussen mans was en lus gehad het vir nog 'n kind, en is verwek met sperm van 'n anonieme skenker in Amerika. Aan die einde van die boek word 'n halfsussie - kind van haar ma en stiefpa, gebore. Hanna se eie pa is 'n homoseksuele mode-ontwerper.

Ouers wat kla oor die waardes wat deur hierdie boeke oorgedra word, word soms hardhandig deur kurrikulumverskaffers gehanteer. Die een verskaffer reageer soos volg : “Ons doen nou die staatseksamens; dus sal ouers maar verlief moet neem dat hulle kinders deur hulle houdings benadeel word.” Die houding in die sin verwys na die houding van ouers wat nie hulle kinders wil blootstel aan die waardes van die voorgeskrewe boek nie. Die reaksie van ’n ander verskaffer oor ’n ouer wat nie sy kind wil blootstel aan ’n voorgeskrewe boek is soos volg : “Neem asseblief kennis dat as U besluit om nie die betrokke vak verder klaar te maak nie gaan die student nie ‘n volwaardige raport kan kry om graad 11 en graad 12 te kan afhandel nie.

Hierdie rigiede houding van kurrikulumverskaffers wat die NSS in Afrikaans aanbied lei reeds daartoe dat ouers kies om liewer die NSS in Engels te doen (aangesien die Engelse voorgeskrewe werke nie so strydig is met ouers se waardes nie) of om alternatiewe matriek-kwalifikasies te verwerf soos Cambridge of GED + SAT. Dit is tragies om kennis te neem dat Afrikaanse kurrikulum verskaffers so graag die alternatiewe gesin wil bevorder dat hulle bereid is om klandisie te verloor daarvoor. Ouers wat oorweeg om die NSS deur ’n Afrikaanse kurrikulumverskaffer te doen word dus aanbeveel om die inhoud van die kurrikulum te bestudeer alvorens hulle inskryf.

Kurrikulumverskaffers moet kennisneem dat tuisskoolouers ander waardes onderskryf as die algemene publiek, en dat tuisskoolouers keuses het. As kurrikulumverskaffers se waardes nie in lyn is met die waardes van tuisskoolouers nie, dan sal ouers kies om ’n ander kurrikulum te gebruik. Baie ouers kies vir tuisonderwys juis omdat hulle nie gemaklik is met die waardes wat die staat deur middel van die staatskurrikulum (CAPS) probeer oordra aan die volgende generasie nie. Sulke ouers stel nie baie belang in kurrikulums wat daarop roem dat hulle voldoen aan die vereistes van CAPS nie. Kurrikulumverskaffers wat produkte aan tuisskolers wil verkoop moet eerder daarop fokus om hulle produkte in te stem op die waardes van ouers, en nie die waardes van die staat nie.

b2ap3_thumbnail_Family-Friendly-Logo.jpg