Aangesien meer as 90% van tuisskoolouers nie registreer by die Departement van Onderwys of enige ander instelling nie, was daar tot dusver geen objektiewe of verifieerbare skatting van hoeveel tuisleerders daar in Suid-Afrika is nie. Skattings wat in die pers aangehaal is wissel van 30 000 tot 120 000.

In die sensus van 2011 is daar vir die eerste keer ’n vraag oor tuisonderwys (vraag P-18) in die sensus vraelys ingevoer. In die vraag oor watter soort opvoedkundige instelling bygewoon word, was daar ’n opsie om tuisonderwys te kies. Die Pestalozzi Trust het baie navrae ontvang oor die vraag of ouers hierdie vraag behoort te beantwoord. Ouers was bekommerd dat die beantwoording van hierdie vraag tot vervolging kan lei. Die Pestalozzi Trust het ’n verklaring uitgereik en aanbeveel dat ouers hierdie vrae eerlik beantwoord, aangesien die voltooing van die vraag nie tot vervolging kan lei nie en omdat die tuisskoolgemeenskap hierdie getalle nodig het.

Die uitslae van die sensus is onlangs vrygestel en volgens hierdie uitslae is daar 56 857 leerders wat tuisonderrig ontvang in Suid-Afrika. Ongeveer 12 000 van hierdie leerders is egter bo die ouderdom van 18, en is waarskynlik leerders wat nie matriek voltooi het nie en dit deur afstandsonderwys probeer voltooi. Dit kom daarop neer dat daar ongeveer 45 000 leerders is wat in ’n skool kon wees, maar hulle onderwys tuis ontvang.

Aangesien baie ouers huiwerig was om die vraag oor tuisonderwys te antwoord uit vrees vir vervolging, kan daar aangeneem word dat die opname van die sensus waarkynlik ’n onderskatting is. As aangeneem dat dit ’n onderskatting van 50% is, is ’n meer akkurate skatting van die hoeveelheid tuisleerders moontlik soveel as 90 000.

United Family International, ’n organisasie wat hom bevorder vir die gesin as bousteen van die samelewing het onlangs ’n opname oor tuisonderwys gemaak onder sy lede. Hierdie opname het aangedui dat 66% van die ouers wat ondervra is, aangedui het dat hulle nie tans tuisonderwys gee nie, maar oorweeg om dit in die toekoms te doen. As hierdie 66% van die ouers oor die volgende 5 jaar sou begin met tuisonderwys, so dit lei tot verdere sterk groei van tuisonderwys.

Gegee dat daar ongeveer 12 miljoen leerders in Suid-Afrikaanse skole is, impliseer dit dat tuisleerders ongeveer 0.75% van die skoolgaande bevolking uitmaak. Soos staatsonderwys in Suid-Afrika verval, kan verwag word dat die hoeveelheid tuisleerders gaan aanhou groei. Dit word bevestig deur Google Trends waarvolgens Suid-Afrika naas die VSA die land waar die meeste soektogte na die woord “homeschooling” gedoen word. In die VSA is die tuisleerders al ongeveer 3% van die skoolgaande bevolking en dit word beraam dat dit groei teen 10-12% per jaar. As tuisonderwys tot dieselfde vlakke groei as die VSA, kan die hoeveelheid tuisleerders in Suid-Afrika groei tot 360 000.

As daar aangeneem word dat tuisskoolouers gemiddeld ongeveer R5 000 per jaar per leerder spandeer aan produkte en dienste vir hulle kinders (dit kos die staat ongeveer R10 000 per leerder om staatsonderwys te verskaf), dan is die mark vir produkte en dienste vir tuisleerders ongeveer R450 miljoen per jaar met ’n potensiaal om te groei tot R1.2 triljoen. Tuisonderwys is dus vir seker ’n mark waarvan opvoedkundige verskaffers moet kennisneem.