In Maart 2011 het Umalusi, die agentskap verantwoordelik vir kwaliteit van matriek in Suid-Afrika, die Nasionale Senior Sertifikaat vir Volwassenes (NSSV) kwalifikasie voorgelê aan die minister van hoër onderwys. Dit is een stap in ’n lang moeisame pad wat nog gestap moet word. Meer inligting hieroor kan gelees word op die webwerf van Umalusi.

Die ontwikkeling van hierdie kwalifikasie is in 2008 begin deur ’n vorige minister van onderwys, Naledi Pandor, om die miljoene jongmense wat nie meer in die skool is nie, ’n geleentheid te gee om ’n matriek te verwerf.

In die verlede kon hierdie jongmense inskryf by ’n afstandsonderrig kollege en binne ’n jaar ’n matriek verwerf. Met die afskaffing van die ou matriek is hierdie moontlikheid weggeneem en jongmense moet nou graad 10, 11 en 12 by ’n geregistreerde skool of kollege doen om ’n matriek sertifikaat te verwerf. So is met die invoering van die nuwe matriek die koste en tyd verbonde aan die verwerwing van ’n matriek deur iemand buite die skool met minstens 300% verhoog. So ’n verhoging sal selfs Eskom nie durf deurgee aan sy verbruikers nie.

Die verhoging van die prys van matriek maak dit baie moeilik vir jongmense om ’n matriek te verwerf en sonder ’n matriek word duisende deure vir hierdie mense toegemaak om verdere opleiding te ontvang of ’n werk te kry. Vir baie van hierdie jongmense bly daar nie veel meer oor as om by die ANC jeugliga aan te sluit en te hoop dat hulle ook iets sal kry as die ANC onder leiding van Julius Malema die myne, die plase en die banke genasionaliseer het.

Die invoering van die NSSV sal dit heelwat makliker maak vir jongmense buite skole om ’n matriek te verwerf. Om hierdie kwalifikasie te verwerf kan enigiemand ouer as 18 jaar eenvoudig eksamens gaan skryf oor vier vakke en ’n punt van meer as 45% behaal in al die vakke. Daar is geen toelatings vereistes nie. Twee van die vakke is verpligtend (Taal en Wiskunde) en twee is keuse vakke (Menslike en sosiale studies, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en bestuurswetenskappe of ’n addisionele taal). Kandidate kan al die vakke in een eksamen sitting of in verskillende sittings gaan skryf. Kandidate kan vakke weer skryf om ’n beter punt te verwerf. Die kwalifikasie moet binne 6 jaar verwerf word vanaf die datum van inskrywing.

Umalusi is nou klaar met sy deel van die NSSV, maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word deur die departement van hoër onderwys. Daar moet ’n kurrikulum raamwerk opgestel word, daar moet ’n beleid vir die administrasie van die eksamen opgestel word en daar moet ’n eksamenraad gestig word. Dit lyk egter nie of daar enige haas is by die departement van hoër onderwys om die NSSV te implementeer nie. Sekere kenners meen dat die kwalifikasie moontlik nooit geïmplementeer gaan word nie.

Die NSSV kan aan miljoene werklose jongmense hoop en perspektief verleen om ’n kwalifikasie en ’n werk te kry. So ’n hoop en perspektief is vir seker beter vir Suid-Afrika as die beloftes wat Malema tans aan die werklose jongmense maak. Die NSSV is ’n veel beter manier om Malema te stop as hofsake.

Dit kan ook tuisleerders bevry van die vereiste om Gr. 10, 11 en 12 by ’n kurrikulum verskaffer doen wat sy leerders inskryf by ’n eksamenraad. Tuisleerders kan eenvoudig dit doen waarin hulle belangstel en op die ouderdom van 18 die NSSV verwerf.