Die VSA is die land waar tuisonderwys die grootste is in die wêreld. Daar word beraam dat daar tans omtrent 2 miljoen tuisleerders in die VSA is. Hierdie tuisskool gemeenskap is oorwegend ten gunste van laer belastings en minder inmenging van die staat in die burgerlike samelewing.

In die VSA is daar ’n sterk groeiende beweging binne die republikeinse party wat ook ten gunste is van laer belastings en minder inmenging van die staat en hierdie beweging staan bekend as die “Tea Party” beweging.  Van die bekendste persone in hierdie beweging is  Ron Paul en sy seun Rand Paul. Ron Paul is ’n mediese dokter wat tans lid is van die Amerikaanse kongres, asook lid van verskeie invloedryke kommissies. Hy is ’n kandidaat vir die presidentsverskiesing van 2012. Rand Paul  is ’n oogspesialis, wat tans ’n senator is van die staat Kentucky.

Die tuisskool gemeenskap is sterk ondersteuners van die Tea Party beweging, omdat hulle dieselfde ideale deel en verskeie politici het al oorwinnings behaal danksy die ondersteuning van die tuisskool gemeenskap. Politici neem nou kennis van hierdie steun en verklaar openlik hulle steun vir tuisonderwys. Ron Paul beskryf homself as ’n “homeschooling champion”, een van hierdie politici het ‘n amptelike “tuisskool week” in die staat Texas geproklameer.

Die tuisskool gemeenskap in die VSA is van baie waarde vir politieke partye, aangesien hierdie gemeenskappe meer georganiseerd en polities aktief is as die algemene samelewing. Die rede hiervoor is dat  hierdie gemeenskap ontstaan het uit ’n geskiedenis van politieke stryd om die vryheid te verwerf om tuisonderwys te mag gee. Baie tuisskolers is betrokke as vrywilligers by die veldtogte van die politieke partye.  Lees gerus die artikel van Reuters oor die politieke invloed van tuisskolers in die VSA.

Behalwe dat die tuisskool gemeenskap meer polities aktief is, het hierdie gemeenskap ook baie meer groeipotensiaal as die algemene samelewing. Oral oor die wêreld is tuisonderwys die vorm van onderwys wat die vinnigste groei. Verder, waar die bevolkingsgroei van meeste westerse lande negatief is, is die tuisskoolgemeenskappe besig om te groei, omdat tuisskoolgesinne gemiddeld meer kinders het.

Ook in Suid-Afrika het die tuisskoolgemeenskap ontstaan uit ’n geskiedenis van vir die vryheid vir tuisonderwys. Volgens ’n artikel in die Sarie is daar nou tussen 30 000 en 120 000 tuisleerders in Suid-Afrika. Dit kom neer op ’n geraamde groei van 60% per jaar. As daar in Suid-Afrika ’n politieke beweging ontstaan wat ’n voorstander is van laer belastings en minder inmenging van die staat in die burgerlike samelewing, kan hierdie beweging waarskynlik reken op die steun van hierdie aktiewe en sterk groeiende gemeenskap.