As daar ooit ’n jaar is waarop ouers en kinders vryheid in onderwys verloor, dan is dit 2014. Publieke skole verloor vryheid om handboeke te kies, leerlinge verloor vryheid om vakke te kies, verpligte skoolbywoning word uitgebrei, laste op privaatskole word verhoog en die nasionale kurrikulum word uitgebrei tot geboorte. Al hierdie veranderinge is aangekondig deur die minister van basiese onderwys, sonder dat enigiemand veel van ’n bohaai gemaak het.

Publieke skole verloor keuse van handboeke

In 2012 het Tuisskolers.Org daarop gewys dat die sentralisering van die aankope van handboeke daartoe gaan lei dat skole minder keuses gaan hê rondom skoolboeke. Skole sal nie meer self kan kies watter boeke hulle wil koop nie, maar sal slegs kan kies uit ’n katalogus wat deur die Nasionale Departement van Onderwys opgestel word. Dit het inderdaad so gebeur. Skole kan nou slegs kies uit ongeveer 8 verskillende boeke per leerarea.

In haar begrotingstoespraak van 2014 het die minister van onderwys aangekondig dat hierdie keuse ook nou weggeneem gaan word. Vanaf 2014 gaan daar slegs een boek per leerarea beskikbaar wees. Dit impliseer dat die staat nou volledige beheer het oor alle inhoud wat kinders in publieke skole leer. Ouers en skole het geen seggenskap daaroor nie. Dit is die uiteinde van die proses wat prof. Kader Asmal in 2002 begin het met die promulgering van ’n nasionale kurrikulumraamwerk.

Leerlinge verloor nog vakkeuses

Daar word ook oorweeg om die geskiedenis leerarea verpligtend te maak. Dit impliseer dat alle leerders verplig word om die staat se interpretasie van die geskiedenis te leer, uit een enkele staatsvoorgeskrewe handboek.

Tans moet leerlinge wat die nasionale kurrikulum volg 7 vakke doen. 4 is verpligtend (2 tale, Wiskunde/Wiskundige geletterdheid, Lewensoriëntering) en 3 vakke is keusevakke. Leerlinge het dus die vryheid om 42% van hulle vakke te kies. Indien geskiedenis ook verpligtend gemaak gaan word, gaan die vryheid verminder word na 28%.

Die feit dat juis geskiedenis gekies word dui ook aan waar die prioriteite van die staat is. Terwyl nog besigheidsleiers nog ekonome ooit gekla het oor ’n tekort aan vaardighede op die gebied van geskiedenis, is dit juis hierdie vak wat verpligtend gemaak word. Die doel van hierdie stap kan dus niks anders wees om die volgende generasie te indoktrineer met die ideologie van die staat nie. 

Verpligte skoolbywoning word uitgebrei

Volgens die Suid-Afrikaanse grondwet het almal die reg op basiese onderwys. Om hieraan uitvoering te gee is skoolbywoning in Suid-Afrika verpligtend van ouderdom 7 jaar tot 15 jaar. Meeste Suid-Afrikaanse kinders ontvang hierdie verpligte onderwys in publieke skole. Ongelukkig funksioneer hierdie skole oorwegend so swak dat baie kinders in Suid-Afrika vir alle praktiese doeleindes geen onderwys ontvang nie. Indien die newe-effekte van boelie, portuurdruk, geweld, dwelms ens. in skole in ag geneem word, kan geargumenteer word dat hierdie kinders oorwegend die teenoorgestelde van onderwys by publieke skole ontvang.

Die Departement van Onderwys het egter aangekondig dat oorweeg word om verpligte skoolbywoning uit te brei na ouderdomme 5 tot 15 jaar. Dit beteken dat baie kinders in Suid-Afrika vir ’n langer periode die teenoorgestelde van onderwys sal ontvang. Op hierdie wyse ondermyn die minister die reg op onderwys nog meer, want kinders gaan nou nog vroeër blootgestel word aan die newe-effekte van publieke skole.

Ook word die bietjie vryheid wat voormalige model-C skole nog het verder ingeperk, deur ’n inisiatief deur Gauteng provinsie om pare skole in ryk en arm gebiede saam te voeg onder een beheerliggaam met een bankrekening.

Monitering van privaatskole word verhoog

Die staat is vyandig gesind teenoor privaatonderwys, aangesien dit beskou word as ’n stem van wantroue in staatsonderwys. Alhoewel die grondwet burgers die reg gee tot onafhanklike skole, gebruik die regering ‘n grondwetlike bepaling dat privaatskole geregistreer moet wees as ’n middel om privaatskole weg te reguleer sodat privaatskole binnekort slegs bekostigbaar sal wees vir ryk mense. (Waar die ministers hulle kinders heen kan stuur)

Die staat plaas ‘n enorme administratiewe las op privaatskole om te registreer en geregistreer te bly. Hierdie jaar het die staat hierdie las nog swaarder gemaak deur die aanvaarding van ’n beleid waarvolgens privaatskole deur Umalusi gemonitor moet word. Volgens ’n berig gaan die kostes van assessering vir ’n skool van ongeveer 600 leerlinge styg van ongeveer R7000 per jaar tot R70 000 per jaar. Bo en behalwe hierdie kostes moet privaatskole ook nog ’n groot hoeveelheid administrasie verrig om voor te berei vir inspeksies van Umalusi. Sommige skole gaan personeellede moet aanstel om hierdie administrasie te doen.

Die strategie van die staat om privaatskole te beperk deur oorregulasie begin reeds vrugte afwerp, aangesien die Departement van Basiese Onderwys rapporteer dat daar reeds nie meer noemenswaardige groei is in die sektor nie.

Nasionale kurrikulum word uitgebrei tot geboorte

Die Departement van Onderwys het aangekondig dat nasionale kurrikulumraamwerk nou uitgebrei is om voor te skryf watter kennis, vaardighede en houdings kinders moet aanleer vanaf geboorte tot ouderdom 4. Die voorskoolse kurrikulum bestaan uit 6 leerareas, naamlik welwese (soos die genot van grondwetlike regte, gesonde kos, goeie gesondheid), identiteit en verbondenheid, kommunikasie, ontdekking van wiskunde, kreatiwiteit en kennis & verstaan van die wêreld. Hierdie kurrikulumraamwerk gaan dan gebruik word om dagsorgsentrums te monitor.

Hierdie kurrikulum gaan gebruik word om geregistreerde dagsorgsentrums en kleuterskole meer intensief te monitor. Vanaf September gaan dit getoets word in 100 sentrums, en daarna sal dit beskikbaar gemaak word aan all geregistreerde dagsorgsentrums. As alle dagsorgsentrums moet registreer, en hulle gemoniteer word om hierdie kurrikulum te volg, beteken dit dat die staat volledige beheer het oor die inhoud van wat kinders leer vanaf geboorte tot Gr. 12.

Die pad vorentoe

Die staat is besig om onderwys te transformeer tot ’n stelsel waar kinders vanaf geboorte tot 15 jaar ge-indoktrineer word in die ideologie van die staat, en weinig vaardighede leer om produktiewe burgers te word. Geen onderwysvakbond, skoolvereniging, kerkgemeenskap, skaduminister of politieke party doen enigiets wesenlik om hierdie transformasie te stop nie. Ouers wat die vryheid wil hê om die onderwys te kies wat in die beste belang van hulle kinders is, is op hulself aangewese.

Vir ouers met ’n gemiddelde inkomste is tuisonderwys omtrent vorm van onderwys waar ouers nog enige seggenskap het. Uit die konsepbeleid wat deur die Weskaapse Departement van Onderwys vrygestel is en uit die beplande beleid van die Nasionale Departement van Onderwys wat uitgelek het, is dit egter duidelik dat dit die intensie van die staat is om tuisonderwys ook te transformeer na ’n alternatiewe kanaal waardeur staatsonderwys gegee word, volledig onder beheer van die Departement van Onderwys.

As tuisskoolouers gelate gaan toelaat dat die beplande transformasie ingevoer word, soos ouers wat hulle kinders na staatskole en privaatskole stuur gedoen het, gaan tuisonderwys binnekort slegs neerkom op staatsonderwys tuis. Leendert van Oostrum stel dit soos volg : “With the current process of reviewing home education policy, law and regulations, homeschooling in South Africa is on the threshold of its most serious crisis in twenty years. Homeschoolers who cherish the education of their children will need to make their voices heard in no uncertain terms over the next year or so."

Tuisskoolouers kan hierdie transformasie slegs keer indien hulle ingelig bly en saamstaan.

Bly ingelig met onafhanklike inligting soos volg:

Sluit aan by tuisonderwys organisasies en ondersteun hulle veldtogte:

School Indoctrination