Wanneer die uitslae van die matriek-eksamens gepubliseer word, skep dit so ’n positiewe atmosfeer dat baie ouers wonder of die onderwys in Suid-Afrika regtig in so ’n slegte toestand is as wat oorwegend berig word.

Aan die een kant lyk dit of die onderwys verval. Die handboek sage in Limpopo het die pers vir maande besig gehou. Die onderwysdepartement in die Oos Kaap was in so ’n toestand dat die nasionale regering die funksie jare gelede moes oorneem. In die Noord Kaap is leerders uit die skool gehou tydens politieke onrus. Volgens FEDSAS is 90% van skole disfunksioneel. Die infrastruktuur van skole is vervalle. Suid-Afrikaanse leerders is onder die slegstes in die wereld volgens internasionale opnames. Volgens ’n studie van die Gauteng Onderwysdepartement is boelie ’n groot probleem in skole. Dwelms word wyd gebruik in skole en al hoe meer skole moet dwelmtoetse instel.

Aan die ander kant beweer die minister van onderwys dat onderwys besig is om te verbeter. Sy kondig ’n enorme transformasieprogram aan tydens die laaste begrotingsrede. Die onderwysbegroting van 2011/2012 was 85% meer as die vorige jaar, nadat dit reeds vir jare die grootste item in die begroting was, en bogemiddeld volgens internasionale standaarde. Die nuwe CAPS kurrikulum is vanaf 2012 ingevoer. Vir die afgelope jare het die matriek slaagsyfer verbeter. Die uitslae van die Nasionale Assesering in Des. 2012 het ’n dramatiese verbetering getoon.

Baie bejeen egter die rooskleurige prentjie van die minister van onderwys met skeptisisme. Toe Media24 navraag by meer as 400 politici gedoen het oor waar hulle kinders skoolgaan, was dit slegs die minister van onderwys wat laat weet het dat haar kinders na ’n privaatskool gaan. Die ander het geweier om die vraag te beantwoord. Die minister van onderwys stuur dus nie haar eie kinders na die stelsel waaraan sy R14 miljard spandeer om dit te verbeter nie, en dit lyk of die ander politici ook nie van publieke skole gebruik maak nie.

Verder berig Die Burger van 4 Jan. 2013 oor die matriekuitslae: “As dit eg is, moet Suid-Afrika ’n onderwysstelsel hê wat die heel vinnigste ter wêreld verbeter.” ’n Analis van Stellenbosch se kommentaar oor die Nasionale Assesering : "I have never before, with any other education test, seen marks jump like that. They improved far too much to be plausible,…". Professor Jonathan Jansen berig in reaksie op verlede jaar se matriek uitslae : “Universiteitsdosente sal jou vertel studente het oor die afgelope paar jaar al hoe swakker geword, terwyl die matriekuitslae, van buite gesien, al hoe beter geword het.” In ’n opname wat deur die VF+ gedoen het, het 93% van die deelnemers gevoel dat ons onderwysstelsel op ’n ramp afstuur.

Dit lyk of ouers ook hierdie skeptisisme deel. Elke jaar is daar meer ouers wat tuisonderrig in Suid-Afrika oorweeg. In ’n brief aan Media 24 skryf ’n ouer ’n brief met die titel : “Tuisskool dalk goeie opsie”. Volgens skattings is daar tussen 30 000 en 120 000 tuisleerders in Suid Afrika.