Oorwegend het die hoofstroomkoerante die Departement van Basiese Onderwys lof toegeswaai oor die verbetering van die matriek slaagsyfer.

In die afgelope week was daar egter van verskeie kante kritiek op die waarde van matriek.

In Moneyweb is gerapporteer dat die Kamer van Handel en Nywerheid besorg is daaroor dat daar oor die laaste jare al hoe minder leerlinge vakke slaag wat van waarde is vir besigheid en industrie. Van 2010 na 2011 het 29.8% minder leerlinge ekonomie geslaag, 20% minder leerlinge het wiskunde geslaag en 19% minder leerlinge het rekeningkunde geslaag.

In Die Burger het Jonathan Jansen geskryf dat die slaag van Gr. 12 met universiteitsvrystelling nie beteken dat jy in staat is om te slaag op universiteit nie. Hy skryf "As universiteitsleiers is ons bekommerd oor die groot aantal studente wat hul kursusse staak of herhaal bloot omdat ons die fout maak om te glo die slaag van gr. 12 beteken ’n student is gekwalifiseerd om aan ’n universiteit te studeer."

Verder verduidelik Jansen dat die subsidiestelsel universiteite onder druk plaas om studente deur te sit, selfs al sou die student nie aan die nodige standaard voldoen nie. Universiteite kry nie subsidie vir studente wat nie slaag nie. Subsidies motiveer universiteite om hulle standaarde te laat daal.

As universiteite gaan toegee aan die subsidiedruk om hulle standaarde te laat daal, gaan hulle kwalifikasie later niks beteken nie. Dit gaan lei tot 'n situasie waar daar baie graduandi gaan wees, maar min van hulle gaan werk kry.

Die enigste oplossing van hierdie krisis is om 'n universiteit te stig wat geen subsidie kry nie, naamlik 'n privaat universiteit. So 'n universiteit gaan slegs gemotiveer word om sy standaard te handhaaf sodat sy kwalifikasie in die mark erken word.