Tuisskolers sal onthou dat Tina van Deventer, tuisskoolma van Pretoria en lid van die Pestalozzi Trust, al etlike jare lank saam met die BCVO en die CVO Skool Pretoria, betrokke is by ‘n hofsaak teen die Minister van Onderwys. Hierdie saak kom uiteindelik voor die hof.

Die uiteindelike doel van die hofsaak is om die minister te verhoed om die staatskurrikulum op private skole en tuisonderwys af te dwing.

GRONDWETLIKE BEPALINGS

Die Grondwet beskerm die reg van elke individu om onderwys te ontvang. Daarbenewens beskerm die grondwet die reg van elke persoon om private onderwysinstellings op te rig en te bedryf.

Die Grondwet vereis dat die standaard van onderwys in private onderwysinstellings nie minderwaardig moet wees aan die standaard van onderwys in vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.

Die grondwet magtig NIE die regering om die INHOUD, die ONDERWYSMETODE, of die ASSESSERINGSMETODE van private onderwys voor te skryf nie. Dit is egter presies wat die staatskurrikulum doen.

SA SKOLEWET STRYDIG MET DIE GRONDWET

Artikels 6A en 51 van die SA Skolewet gee verder voor om die minister te magtig om beide die kurrikulum en die assesseringsstelsel vir openbare EN private skole voor te skryf. Die Grondwetlike Hof moet dus gevra word om hierdie bepalings van die SA Skolewet ter syde te stel.

Daar is egter ‘n verdere probleem: Art 41 van die SA Skolewet vereis dat die minister die kurrikulum en die assesseringstelsel by wyse van REGULASIES moet promulgeer. Dit is nooit gedoen nie.

HUIDIGE STAATSKURRIKULUM ONAFDWINGBAAR

Die kurrikulum is by wyse van BELEID gepromulgeer, en is dus nie wetlik afdwingbaar nie. Desnieteenstaande gee die minister voor dat dit wetlik afdwingbaar is, en vele dwase privaatskole en selfs tuisskolers aanvaar dit asof dit wetlik afdwingbaar is.

Nou: As ons die Grondwetlike Hof nader om Art 6A en Art 51 tersyde te stel vir sover hulle voorgee om die minister te magtig om kurrikulum en assesseringstelsel op private en tuisonderwys af te dwing, sal die hof met regte kan weier om die saak aan te hoor omdat die minister dit inderdaad NIE regtens op private en tuisonderwys afdwing nie, maar slegs voorgee dat dit afdwingbaar is.

DOEL VAN DIE HUIDIGE HOFSAAK

Ons moet dus eers die hof nader om die minister te dwing om haar kurrikulum by wyse van REGULASIE te promulgeer soos die wet bepaal. Wanneer sy die regulasies gepromulgeer het, kan ons dan haar grondwetlike mag om dit te doen voor die Grondwetlike Hof in dispuut bring.

Die huidige saak gaan dus daaroor om die minister te dwing om die regulasies te promulgeer (of om te erken dat haar kurrikulum nie afdwingbaar is nie).

Hierdie saak is reeds vier jaar gelede aanhangig gemaak. Die minister veg egter hand en tand om dit uit die hof te hou en opper allerlei besware.  Nou het ons uiteindelik hofdatums gekry – die saak is op die rol geplaas vir 7,8, en 9 Maart in die Hoërhof in Pretoria.

WOON DIE SAAK BY EN BRING DIE KINDERS

Oudregter William de Villiers, wat die saak vir ons voorberei het, het gevra dat ons ‘n goeie teenwoordigheid van belangstellende belanghebbendes in die hof moet handhaaf vir die duur van die saak. Hy sê dit is belangrik om vir die Hof te demonstreer dat die saak nie net van akademiese belang is nie, maar dat die belanghebbendes inderdaad betrokke is by die saak.

Mens hoef nie elke dag vir drie dae in die hof te gaan sit nie. Mens kan bloot die ouer kinders bring en vir ‘n paar ure kyk wat daar aangaan. Enersyds is dit vir die kinders waardevolle blootstelling aan die hofprosesse. Andersyds is dit ‘n historiese hofsaak wat GROOT opskudding regdeur die hele onderwysstelsel gaan veroorsaak as ons dit wen. Dis die soort saak waaroor mens sal wil, kan sê “ek was daar”.

Oorweeg dus gerus om sake te skeduleer dat u daar kan inloer. Dit maak nie saak hoeveel mense kom nie – hoe meer hoe beter. As sommige mense in die gange moet rondstaan omdat daar nie plek in die hof is nie, is dit nog soveel beter.

Omdat dit noodsaaklik is dat die stilte in die hof gehandhaaf word, is dit egter nie verstandig om heel klein kindertjies te bring nie. Mens moet ook nie die hof ontwrig as jy in- en uitbeweeg terwyl die saak aan die gang is nie. Ek sou dus voorstel dat u kinders van so tien of twaalf en ouer kan saambring.

Ek sal later verdere besonderhede plaas oor die hoftye en die hof wat vir die saak toegewys is en so aan.

Onthou egter: Hierdie is een van daardie dinge waar u kan help om geskiedenis te maak deur bloot daar te wees!

Groete, Leendert