In die Burger van 12 Oktober 2012 is vermeld dat 'n sentrale aansoekstelsel vir naskoolse opleiding ingevoer gaan word. Deur hierdie stelsel sal daar elektronies aansoek gedoen kan word om toelating te kry tot naskoolse opleiding. Studente wat nie by bepaalde instellings aanvaar is nie, sal leiding kry oor ander moontlikhede. Universiteite sal ook kandidate wat nie aanvaar is nie se name by die stelsel kan indien sodat ander instellings wat wel vir hulle plek het, hulle kan nader.

Volgens dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding is die doel van die stelsel om te verseker dat die skoolverlaters uit die beste skole nie deur die beste universiteite opgeraap word, terwyl ander instellings die armes moet akkommodeer nie. “Die las sal versprei moet word ...”

Die rede waarom universiteite van toelatingsvereistes gebruik moet maak, is omdat universiteit oorwegend meer as 50% van hulle inkomste in die vorm van staatsubsidie ontvang. Die staat betaal egter slegs vir studente wat hulle vakke slaag. As ’n universiteit ’n hoë standaard handhaaf en as gevolg daarvan ’n lae slaagsyfer het, verloor so ’n universiteit inkomste van die staat. Universiteite is daarom onder druk om ’n hoë slaagsyfer te handhaaf. Die enigste manier om ’n hoë slaagsyfer te handhaaf en ook ’n hoë standaard te handhaaf is deur die instelling van toelatingsvereistes. Deur streng toelatingsvereistes in te stel verseker die universiteite dat die studente wat ingeskryf word sal slaag terwyl hoë standaarde gehandhaaf word.

In Suid-Afrika het sommige universiteite hoë standaarde gehandhaaf deur van streng toelatingsvereistes gebruik te maak, terwyl ander universiteite hulle standaarde laat daal het. Omdat die universiteite met hoë standaarde se kwalifikasies van meer waarde is vir studente, is daardie universiteite meer gesog. Hierdie universiteite kan dus die room van die skoolverlaters afskep en hulle standaarde handhaaf.

Die intensie van die minister is om ’n einde aan hierdie situasie te maak. Die universiteite met hoë standaarde sal op een of ander manier gedwing word om studente wat nie aan hulle toelatingsvereistes voldoen nie te aanvaar. As die universiteite hulle standaarde handhaaf, sal hulle inkomste uit staatsubsidie verminder. Hierdie universiteite sal moet opmaak vir hierdie verlies aan inkomste. Die een opsie sal wees om klasgelde dramaties te verhoog, terwyl die ander opsie gaan wees om standaarde te verlaag.

Aan die ander kant gaan daar skoolverlaters wees wat wel aan die toelatingsvereistes voldoen wat slegs toegelaat gaan word tot universiteite met lae standaarde. Hierdie skoolverlaters sal so gedwing word om ’n kwalifikasie te verwerf wat minder werd is.

Die uiteinde van hierdie situasie gaan waarskynlik wees dat dit al hoe moeiliker gaan wees vir skoolverlaters om toegang tot 'n universiteit met 'n hoë standaard te kry. Aan die ander kant word dit al hoe makliker om kwalifikasies in die buiteland te verwerf, soos buitelandse universiteite toenemend hulle kursusse oor die Internet beskikbaar maak.

Die regulasies rondom die administrasie vir matriek het die kostes om ’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te verwerf deur middel van tuisonderwys dramaties verhoog. Die enigste rede waarom ouers die NSS benodig is om toelating te kry tot naskoolse opleiding in Suid-Afrika. Soos kwalifikasies van hoë waarde al hoe skaarser gaan word in Suid-Afrika, moet tuisskoolouers toenemend begin fokus op ’n matriek wat hulle toegang sal gee tot buitelandse universiteite, eerder as om R15 000 per jaar te betaal om ’n NSS te verwerf.

Toelating tot universiteite word moeiliker gemaak