Solidariteit Helpende Hand het onlangs ’n verslag uitgebring oor die Afrikaanse gesin met die titel “’n Foto van die Afrikaanse gesin”. Hierdie verslag bespreek die toestand van die Afrikaanse gesin van vandag.

Die verslag van Helpende Hand skets ’n donker prentjie oor die toestand van die Afrikaanse gesin en stel ’n oefenprogram voor waarmee gesinne weer herstel kan word. Die verslag laat egter na om een van die mees heilsaamste gesondheidmiddels vir gesinne te noem, naamlik tuisonderwys. Tuisonderwys is nie slegs iets wat goed is vir die kinders nie, maar dis iets wat die ouers nog meer verander as die kinders en lei tot die uitbou van sterk gesinne. ’n Samelewing met sterk gesinne is ’n samelewing met ’n toekoms.

Die navorsing van Helpende Hand is gedoen as deel van ’n groter ondersoek na die probleem van armoede wat besig is om toe te neem onder Afrikaanse gesinne. Aangesien gesinsverbrokkeling ’n groot bydraende faktor is tot armoede, is ’n ondersoek na die gesin ’n noodsaaklike onderdeel van die ondersoek na armoede. Navorsing toon dat slegs 7,8% van kinders uit stabiele huise vasgevang is in die armoede-sirkel, teenoor 38,4% van kinders wat grootgeword het in enkelouer gesinne. Volgens navorsing  aangehaal  deur United Families kom 80% van kinders wat oor die lang termyn in armoede verkeer uit gebroke gesinne of van ouers wat nooit getroud is nie.

Die belangrikste resultate van hierdie navorsing is die volgende:

Een van die redes waarom baie ouers kies vir tuisonderwys, is juis die heilsame effek van hierdie vorm van onderwys op die gesin.

Tuisonderwys moet egter met omsigtigheid hanteer word. Tuisonderwys kan met liggaamlike oefening vergelyk word. Oefening is goed  vir ’n persoon wat gesond is en kan hom/haar sterker en gesonder  maak, maar kan dodelik wees vir iemand wat siek is. Net so gaan tuisonderwys nie ’n gebroke gesin herstel nie, maar dit kan ’n gesin wat nog in takt is sterker maak sodat die gesin nie maklik sal opbreek nie.

Aan die ander kant moet skoolonderwys ook met omsigtigheid hanteer word. Aangesien kinders in skole vir lang tye weg is van hulle ouers en die kinders dikwels ander waardes by die skool en die portuurgroep leer as by die huis kan skoolbywoning lei tot die verswakking van die band tussen ouers en kinders en sodoende kan skoolbywoning groot skade aan ’n gesin aanrig.

Tuisonderwys is nie slegs ’n vorm van onderwys wat beter akademiese resultate lewer nie, maar lewer ook ’n groot bydrae tot die uitbou van stabiele gesinne. As tuisonderwys onder Afrikaanse gesinne aanvaar word, sal dit lei tot meer stabiele gesinne en op sy beurt weer lei tot minder armoede.