Die wet in Gauteng verskil nie van die meeste ander provinsies nie (Wes-Kaap, KZN en Oos-Kaap - die ou Ingelse kolonies - verskil 'n bietjie in sommige opsigte, maar nie regtig t.o.v. wat ek hier sê nie). O, ja, en die Vrystaat - wat in elk geval maar 'n Ingelsgesinde Republiek was :-)

Daar is 'n nasionale wet wat sê dat jy jou kind moet registreer, tensy jy goeie rede het om dit nie te doen nie.

Die provinsies gebruik hierdie wet en stel dan allerlei onredelike, en selfs onwettige voorvereists vir registrasie. M.a.w. hulle gebruik 'n andersinds wettige registrasievereiste om mense te dwing om te voldoen aan 'n kasarm ander vereistes wat hulle nie andersinds op hulle kan afdwing nie.

Die gevolg is dat ongeveer 95% van alle tuisskolers tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle wettiglik geregverdig is om nie te registreer nie, weens die onwettige voorwaardes wat die departemente stel, en omdat baie van die onwettige voorwaardes, volgens hulle oordeel, strydig is met hul kinders se beste belange.

Een voorbeeld van 'n algemene vereiste is dat die tuisonderwys moet voldoen aan die staatskurrikulum. Dis onwettig. Wat die wet sê is dat dit moet voldoen aan DIE MINIMUMVEREISTES van die kurrikulum in openbare skole. Nou bepaal die reëls van wetsuitleg dat ons nie, soos die minister doen, "minimumvereistes" mag uitlê as sou dit AL die vereistes beteken nie. Hierdie vereiste is dus op suiwer wetlike gronde onwettig.

Verder is dit baie maklik om te toon dat nie naastenby alle staatskole voldoen aan al die vereistes van die staatskurrikulum nie. Dit beteken dat die departemente eise stel aan tuisskolers waaraan hul eie skole nie voldoen nie, wat onbillik en dus onregmatig is. Dit sou ook beteken dat iemand se tuiisonderwys miskien afgekeur kan word omdat hy nie aan al die vereistes van die staatskurrikulum voldoen nie, en dat die kinders dan na 'n staatskool moet gaan wat aan nog minder van die vereistes voldoen! Insgelyks onbillik.

Die vereiste is dus nie net op streng wetlike gronde onwettig nie, maar ook op algemene regsgronde.

'n Ander voorbeeld is dat departement daarop aandring om die huise van tuisskolers te inspekteer (hulle noem dit "besoek"). Sulke besoeke behels egter 'n inbreuk op die kinders se reg op privaatheid, en van al die mense wat in die huis woon.

So 'n ingryping in 'n fundamentele reg kan aanvaarbaar wees as dit geregverdig is. Daar is egter geen inligting wat amptenare benodig om hul werk t.o.v. die kinders se onderwys te doen, wat nie op minder indringerige maniere bakom kan word nie (as hulle die kinders se skoolwerk wil sien kan hulle dit per slot van rekening in hul eie kantore ook inspekteer).

En so aan.

Waar dit kurrikulumverskaffers aangaan.

Daar is geen wet wat vereis dat kurrikumverskaffers aan hul kliënte die voorwaarde moet stel dat hulle geregistreer moet wees nie. Net soos daar geen wet is wat van 'n motorhandelaar vereist om motors slegs te verkoop aan mense met bestuurslisensies nie. ('n Kind van vier kan 'n motor besit - hy mag hom net nie bestuur nie. Daarom is die kontrole van bestuurslisensies die funksie van die verkeersowerheid, nie van die motorhandelaar nie.)

Synde private organisasies kan kurrikulumverskaffers egter enige voorwaardes vir die gebruik van hul produkte stel wat hulle wil. As hulle sou weier om hul produk aan jou te verkoop tensy jy Jan Pierewiet op die trappe van die stadsaal sing, kan hulle dit doen.

Ek self is egter BAIE skugter om produkte te koop van ondernemings wat eise stel dat ek Jan Pierewiet moet sing, op die trappe van die stadsaal of op enige ander plek. Insgelyks dink ek dis nie baie wys om besigheid te doen met ondernemings wat op ander wyses inmeng met dinge waarvoor hulle geen verantwoordelikheid het nie, en wat vir hulself die mag toe-eien om voorwaardes te stel sonder dat daardie mag wetlik aan hulle toevertrou is.

pestalozzi

------------------------------------------------------------------

Hierdie artikel oor die vraag of ouers wat tuisonderrig gee in Suid-Afrika moet registreer by die Departement van Onderwys is geskryf deur Leendert van Oostrum en op 21 Jan. 2013 geplaas op die Tuisonderwys poslys op Yahoogroups.