VAN : Pestalozzi Trust vir tuis- en burgerlike onderwys - 4 Januarie 2012

Ontleding van die resultaat in die 2011 matriekeksamen toon dat tuisleerders weereens uitstekend presteer het.

Voorlopige resultate van die Eksamenraad vir Christelike Onderwys (ERCO) geskryf het, toon dat ongeveer 500 bona fide tuisleerder die eksamen geskryf het en ’n slaagsyfer van ongeveer 93% behaal het. Van die kandidate wat geslaag het, het ongeveer 63% met universiteitsvrystelling geslaag.
Leendert van Oostrum, ’n onderwyskonsultant wat in tuisonderwys spesialiseer, verklaar dat die uitstekende akademiese, sosiale en persoonlike ontwikkeling van tuisleerders in Suid-Afrika ooreenstem met resultate wat tuisleerders in ander lande verkry volgens onafhanklike navorsing oor verskeie dekades.

Hy het egter daarop gewys dat hierdie kandidate vele burokratiese struikelblokke moes oorkom net om die eksamen enigsins te skryf. Van Oostrum verklaar dat die nuwe Nasionale Senior Sertifikaat ontwerp is om voltydse leerders in skole te bevoordeel. Die aard van die eksamen maak dit egter baie duur en amper onmoontlik vir onafhanklike en afstandleerders om te voldoen aan die burokratiese eise wat die nuwe eksamen stel.

Daarbenewens aanvaar die eksamenrade van staatsdepartemente nie meer onafhanklike kandidate tensy hulle onder die mantel van skole ingesmokkel word nie.
Dit beteken dat die matrieksertifikaat, wat tot vyf jaar gelede vir so min as een duisend Rand geskryf kon word, nou ten minste dertig duisend Rand kos. Een van die gevolge is dat die getal onafhanklike kandidate gedaal het van ongeveer vyftienduisend per jaar na ongeveer eenduisend.

Die Pestalozzi Trust het regslui opdrag gegee om die owerheidsuitsluiting van juis daardie mense wat die grootste behoefte aan onderwys het te ondersoek en desnoods voor die hof te bring – mense wat weens finansiële, persoonlike of ander faktore nie hul matriek in skole kon voltooi nie.

Vir verdere inligting kontak Leendert van Oostrum by 012 330 1337