Die Pretoriase hooggeregshof het vandag verlof tot appèl toegestaan teen die uitspraak van Regter Cynthia Pretorius in die saak van BCVO e.a. vs Onderwysminister en ander.

In hierdie saak het die applikante, insluitende tuisskoler Tina van Deventer, die hof gevra om: 

1. 'n Verklarende bevel te gee dat die nasionale kurrikulum nie afdwingbaar is op privaatskole of tuisonderwys nie. (By implikasie moet sy ook verklaar dat die nie op openbare skole van toepassing is nie.)

2. Die onderwysminister te beveel om op te hou om voor te gee dat die kurrikulum wel afdwingbaar is.

3. Ministeriële kennisgewings waarin die minister voorgee dat die kurrikulum afdwingbaar is ter syde te stel.

Die Onderwysminister het aangevoer dat die applikante se aansoek te lank na die uitreiking van die kurrikulum in 2002 plaasgevind het – die wet op bevordering van administratiewe geregtigheid (PAJA) bepaal dat ‘n aansoek om her siening binne ses maande ingedien moet word.

Applikante wys daarop dat die uitreiking van beleid (die kurrikulum) ‘n uitvoerende handeling is, en NIE ‘n administratiewe handeling nie, en dat PAJA nie van toepassing is nie. Ingeval die hof wel sou beslis dat PAJA van toepassing is, moet die applikante toe ‘n TWEEDE aansoek bring dat sodanige vertraging in die belang van geregtigheid oor die hoof gesien word.

Die inbring van die tweede aansoek het die hulpbronne van die applikante swaar belas (wat moontlik die bedoeling van die Minister was toe sy die tegniese klip in die pad gerol het). Die gevolg was dat applikante te lank gesloer het om hul repliserende verklaring in die tweede aansoek in te dien.

Dit was dus nodig om ‘n DERDE aansoek in te dien om die hof te vra om die vertraging met die kondonasie van die vertraging met die repliserende verklaring in die tweede aansoek!

Op hierdie wyse het die minister baie amper daarin geslaag om die hele saak in ‘n tegniese moeras te laat versuip.

In haar uitspraak het die regter al drie die aansoeke afgewys. Die aansoeke om uitstel het sy albei afgewys omdat sy nie gedink het dis redelik nie. Hier het sy oor die hoof gesien dat die Minister STEEDS haar beleid op die applikante afdwing en sal voortgaan om dit te doen.

Die hoofaansoek, om ‘n verklarende bevel, het die regter geweier op grond daarvan dat die Grondwetlik Hof hom reeds in 2001 oor die saak uitgespreek het! Dit is nie heeltemal waar nie – die Grondwetlike Hof het inderdaad die regsbeginsel neergelê dat beleid nie afdwingbaar is nie, maar die saak het nie oor kurrikulum gegaan nie. En die feit dat dit nie oor kurrikulum gegaan het nie, word telkens deur amptenare teen die kop gegooi van privaatskole en tuisskolers wat hulle op die regsbeginsel beroep dat beleid nie afdwingbaar is nie.

Die regter het ook beveel dat die applikante die koste van die Minister (waarskynlik heelwat meer as ‘n kwartmiljoen Rand) moet betaal.

Die applikante het dus aansoek gedoen om toestemming na die appèlhof in Bloemfontein te appelleer teen die uitspraak van die hof. Regter Pretorius het hierdie aansoek vanoggend toegestaan. Dit beteken in beginsel dat Regter Pretorius met die applikante saamstem dat ‘n ander hof op grond van dieselfde feite tot ‘n ander gevolgtrekking mag kom.

Dus – daar gaan ons weer!

Groete, Leendert