Die jammer deel van Dag 1 is dat die advokate versoek het dat almal onder 18 die hof verlaat. ‘n Paar klein seuntjies het bietjie gewoel. Ek het self niks opgemerk nie, want hulle het agter my gesit. Die regter het dit egter steurend gevind, wat mens kan verstaan, want dit verg volkome konsentrasie om die komplekse argumente te volg. Verder het sommige kinders, ten spyte van ons versoek op hierdie poslys dat niks in die hof geëet of gedrink moet word nie, koeldrank in die hofsaal gedrink. Die regter het verklaar dat dit die waardigheid van die hof skend.

Dit is baie jammer, want die meeste ouer kinders – en die volwassenes – het die verrigtinge en die argumente baie interessant gevind.

Waar dit die verrigting aangaan, het dit baie goed gegaan. Die hele dag is in beslag geneem deur die betoog van ons advokaat om ons aansoeke uiteen te sit en te verduidelik. Adv. Fanie du Plessis, ‘n Senior Advokaat van Johannesburg, het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Die konsensus onder die regsverteenwoordigers was ook dat die vooruitsig bemoedigend is.

Die betoog was, soos gesê, baie insiggewend, veral omdat dit baie van die regte van kinders en ouers uiteensit en benadruk. Dit is veral goed omdat Beeld en Pretoria News verslaggewers in die hof gehad het. Beeld is verteenwoordig deur Alet Rademeyer, een van die topjoernaliste van Naspes en een van die skerpste onderwysverslaggewers in die land.

More sal dit minder “goed” gaan, want dan kry die Minister se verteenwoordigers geleentheid om te antwoord op ons betoog, en dit uitmekaar te trek en argumente daarteen te opper. Dit sal nie so lekker wees as om te hoor hoe jou eie saak gestel word nie, maar dit sal baie waardevol wees om te sien wat die minister se uitgangspunte is want daaruit leer ons meer van die owerheid se houding teenoor privaat- en tuisonderwys en veral teenoor ons regte.

Nadat die minister se betoog aangehoor is, kry ons advokaat weer geleentheid om repliek te lewer op die minister se betoog. Daarna sal die regter aandui wanneer sy uitspraak sal lewer.

Tans lyk dit asof die hofverrigting more reeds sal kan afsluit, want die saak vlot goed.

Almal wat dus nog die saak wil bywoon word dus aangeraai om more te kom.

EN ONS HET MENSE NODIG OM DIE BANKE TE VUL!

Oorweeg dus ASSEBLIEF om more ‘n uur of twee opsy te sit om te kom hoor wat dink die minister van ons, en hoe ons advokaat daarop antwoord.

Groete, Leendert