Ouers wat tuisonderwys gee word dikwels gekonfronteer met die vraag hoe hulle in staat is om al die “moeilike” hoërskool vakke baas te raak en hulle kinders te help om dit te bemeester. Die argument dat dit onmoontlik is vir ouers om die hoërskool vakke aan te bied is soms ’n rede waarom tuisonderwys afgekeur of verbied word. In Swede is daar onlangs nuwe wetgewing ingevoer wat tuisonderwys verbied in daardie land. Die Sweedse minister van onderwys, Jan Bjorklund, regverdig dit op grond van die volgende argument : “I maintain there is not a chance that parents could be able to teach every core competencies in all 16 subjects that are taught in public school, and that the public school offers children.

Daar is egter verskeie oplossings waarmee ouers vir hulle kinders die “moeilike” hoërskoolvakke kan aanbied en een van die oplossings het die potensiaal om hele onderwyssektor te transformeer sodat onderwys oor twintig jaar heeltemal anders kan lyk as vandag. Hierdie oplossing kan beskryf word as die “Khan faktor” en dis hierdie oplossing wat die einde kan beteken van tradisionele onderwys met klokke, baksteengeboue, klaskamers en onderwysers.

Eerstens kan ouers die vak saam met die kinders bemeester. Hulle kan saam met die kinders leer en dit aan hulle kinders verduidelik. Op ‘n radioprogram het Leendert van Oostrum dit beskryf as ouers wat ’n tweede kans kry om die vak baas te raak. Die ouers hoef immers net een les voor die kinders te wees om die huidige les te verduidelik. ’n Klassieke voorbeeld van iemand wat hierdie benadering gevolg het, was die komponis Rimski Korsakov. Korsakov is aangestel as professor in musiek by die konservatorium van Sint Petersburg. Sy kennis van die vakke wat hy moes aanbied was egter elementêr en hy moes die vakke self baasraak, terwyl hy dit aangebied het op die konservatorium. Korsakov was nie skaam om te beweer dat hyself sy eie beste leerling aan die konservatorium was nie.

’n Tweede moontlikheid is dat ouers iemand anders inhuur om vakke wat hulle self nie verstaan nie aan die kinders te verduidelik. Net soos wat ouers van skoolgaande kinders mense kan inhuur vir bv. ekstra wiskunde klasse, kan ouers wat tuisonderwys gee dit ook doen.

Daar is egter ’n derde moontlikheid wat stadig besig is om die hele onderwys sektor te verander. Hierdie moontlikheid staan bekend as die Khan faktor. Salman Khan was ’n batebestuurder wat in 2004 wiskunde klasse vir sy niggie aangebied het oor die Internet. Toe meer familielede van hierdie dienste gebruik wou maak, het hy begin om video’s op Youtube te plaas. Hierdie video’s het ’n sensasie veroorsaak. In 2006 het Khan sy werk gelos en voltyds in die aanbieding van klasse ingegaan. Vandag bevat sy webwerf al meer as 2400 video’s. Verder kan die video’s gratis afgelaai word. Die Khan Academy geniet die ondersteuning van groot beleggers soos Bill Gates.

Hierdie soort fasiliteite laat ouers anders dink oor onderwys. Waarom moet hulle duur betaal vir ’n skool met middelmatige onderwysers, as hulle kinders na die beste onderwysers in die wêreld kan luister by die huis en dit nogal verniet?

Die Khan Academy stel ouers wat tuisonderwys gee in staat om aan hulle kinders iets beters te gee as wat skole kan droom om te gee. Kurrikulum verskaffers moet ook kennis neem van hierdie ontwikkeling. Ouers gaan nie bereid wees om te betaal vir video’s van onderwysers wat iets verduidelik, indien hulle dit verniet op die Internet kan kry nie.

As die Khan Academy aanhou groei soos hy tans doen, gaan tuisskool ouers later vir skoolouers vra waarom hulle nie eerder kies vir tuisonderwys, waar jy kan gebruik maak van die beste onderwysers om al die “moeilike” vakke te verduidelik nie.

Oral in die wêreld is die staat een van die grootste rolspelers in die onderwys en die Khan faktor is ’n bedreiging vir die tradisionele staatskole. Om die rede begin die staat ook betrokke raak by die aanbied van onderwys oor die Internet. In Suid-Afrika het die Departement van Wetenskap en Tegnologie ’n inisiatief geloods om ekstra wiskundelesse oor MXit te verskaf. In die VSA bied die stad Cincinnati  ’n kurrikulum aan oor die Internet.